Richard van der Westhuizen is terug met nuwe CD
Gepos op August 19th, 2011 deur Ja_Broer

Na sowat ses jaar se skryf, is die akteur, sanger en liedjieskrywer Richard van der Westhuizen terug met ‘n album vol warmte. “Swerwerspoor” is Van der Westhuizen se tweede solo-album en volg op 2005 se “Songs uit my binnesak.” Dit is gevul met vyftien splinternuwe skeppings uit die pen van die veelbekroonde akteur en sanger-liedjieskrywer van die immergroen temalied van die gelyknamige TV-reeks Ballade vir ‘n enkeling.

“Ek wil mense uitnooi om ‘n paadjie saam met my te loop, met warmte, maar sonder nyd of woede,” verduidelik Van der Westhuizen sy bedoeling met dié nuwe uitreiking wat aansluit by die heel eerste lied op die CD, “Warm hier by my.” “Ek preek nie, maar ek noem tog sekere feite: suurwater wat uit die myne borrel, geld wat in die regeringsgatsakke verdwyn, makelaars wat sukkel met geldsug en plaasmoorde. Maar ek het deernis met die messelaar, die swerwer op soek na sy Isabella, die futiele kruistog van die krygers van die kermismaan en die arme siel wat nog nooit ‘n vis kon vang nie. Soos ek. Waar ek duine oorgeklim het, lê daar spore. En nou wil ek verduidelik hoekom hulle daar lê.”

“Swerwerspoor” is ‘n gestroopte, akoestiese album met uiteenlopende musikale invloede – van country en boeremusiek tot die kabaret. Die meeste van die liedjies se woorde en musiek is uit Van der Westhuizen se pen, behalwe twee wat hy saam met Natie Botes

van Bloemfontein geskryf het en “Die klaaglied van Jeremia Broodryk” wat hy saam met André Swiegers geskep het.

Die beeld van ‘n swerwer, vervat in die albumtitel, is een wat Van der Westhuizen bybly. “Ek hou van reis, en van droë wêreld,” sê hy. “Dit is seker maar ‘n soort metafoor vir ‘n lewe, ‘n swerftog bepaal deur elkeen se unieke keuses. Soos jy loop, los jy ‘n spoor en die wind waai later alles toe. Ons bly nie op die maan nie. Hierdie is ‘n paar van my spore wat ek ‘n bietjie langer wou beskerm teen die wind.”

Al is Van der Westhuizen vir meer as dertig jaar by die verhoog, radio, musiekteater, oorklanking, televisie en rolprente betrokke, beskou hy musiek steeds as sy eerste liefde. “Ek het grootgeword saam met Woodstock, The Rolling Stones, Beatles en selfs Elvis. Ek het sopas “Life” van Keith Richards klaargelees en van vooraf weer vreugde gevind in kitaar speel. Skryf is my gewete. As die musiekpoel oorloop, moet iemand die druppels opvang. Ek was nog altyd genadiglik in die posisie om ‘n paar druppels te kon vang.”

“Swerwerspoor” is ‘n album wat knetter van oorspronklikheid en met sy vurigheid en eenvoud meer as net luisteraars se hande en harte gaan warm maak. Dit bied ontvlugting aan diegene wat bietjie genoeg gehad het van die rowwe ritmes van die doef-doef-mark en beloof om ‘n juweel op iedereen se musiekrak te wees.

zp8497586rq
1
Richard
deel
twitter

1 Reaksie op Richard van der Westhuizen is terug met nuwe CD

  1. Trix Burger says:

    Ek hou van die idee dat ek ontvlugting kan vind in musiek!!!!



«


Teken In
Flash Player Windows Media Player


Wat dink jy?
Wat laat jou 'n tydskrif koop?
Kategorieë

Argiewe
Facebook

Twitter