Guillaume is terug met splinternuwe CD
Gepos op April 23rd, 2012 deur Ja_Broer

Man van vele talente… man van staal… Beide beskryf Guillaume heel goed en laasgenoemde is dan ook die titel van sy nuwe CD. As ‘n kat nege lewens het, het die sanger en liedjieskrywer Guillaume ‘n totaal van elf lewens! Oorspronklik van Omaruru in Namibië, is dié donkerkop en energieke solokunstenaar terug op die musiektoneel met ‘n volwasse kontemporêre album, “Man van Staal,” wat talle nuwe aspekte van sy musikaliteit uitlig.

Die titelsnit sê dit reeds alles. “Ek het die afgelope paar jaar ‘n paar terugslae gehad. Mense, platemaatskappye en die media het my hard geneuk. As iemand eendag besluit jy is niks, dan is dit asof almal dieselfde van jou begin dink. Hierdie album is om vir almal te wys: ‘Ek sal nie gaan lê nie. Ek is ‘n man van staal.’ ”

Die meeste van die 15 liedjies is nuwe skeppings uit Guillaume se pen, behalwe ‘n akoestiese weergawe van U2 se “With or Without You” en “Hey Mr. Dream Maker,” wat deur Cliff Richard opgeneem is. Hy was ook mede-regisseur van die album. Die kontemporêre liedjies wys waar Guillaume nou is in sy lewe. “Dit was vir my belangrik om te wys dat ek ernstige musiek kan skryf en maak, maar ook dat ek daartoe in staat is om ‘n variasie van style te kan aanbied… Met ‘n bietjie meer klas as ‘bokkie, sokkie, trokkie…’ ”

Musiek was nog nooit vir Guillaume net ‘n stokperdjie nie. “Ek het in ‘n baie musikale huis grootgeword. My ouers is albei goeie musikante. My pa het orkes gespeel toe ons kinders was. So ons het sommer so op die dansvloere, onder die tafels, grootgeword. My ma het by ons huis ‘n musiekskool gehad. Sy wou my nooit self onderrig nie, so ek moes maar musiek as vak neem op skool.”

Die titelsnit “Man van Staal” is dalk tekenend van Guillaume se nuwe begin, maar dit is terselfdertyd ‘n hartroerende liefdesballade. Guillaume sing met ‘n hernude ligvoetsheid en volwassenheid, soos op die euforiese Afrika kind waarin hy ‘n liefde vir sy tuisland in liriek en klank verwoord het. “Tina Makwêla” is weer ‘n voetejeuk-treffer met ‘n polsende ritme en saamsing-koor, terwyl “Elke liewe deel” behoorlik bibber van die dansmusiek, ‘n orrel en country-getinte viool- en kitaarspel. Ook die dawerende “Christine” en die pa-ballade “Hande van sterk” dra by tot die verrassingselemente op hierdie versameling wat sy klanke en kleure kaleidoskopies vertoon.

“Man van Staal” is Guillaume se skoene-uitskop-album; ‘n soort tuiskoms vir ‘n kunstenaar met oorgenoeg integriteit en oorspronklikheid. Guillaume hoef nie op foefies of ateljee-toertjies staat te maak nie. Sy jongste album plaas die soeklig op sy fluweelstem en inspirerende lirieke. Die eindproduk is meer as ‘n dosyn musiekjuweeltjies wat oud en jonk sal bybly en met die ewigheid van staal sal aanhou skitter.

0
Guillaume
deel
twitter

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>



«


Teken In
Flash Player Windows Media Player


Wat dink jy?
Watter treffer van Jay is jou gunsteling?
Kategorieë

Argiewe
Facebook

Twitter